Vrydag 27 November 2015

HAATLIKE HELGA OF LIEFLIKE LOLITA?

HAATLIKE HELGA OF LIEFLIKE LOLITA?

"Daardie gedrag wat jou so irriteer en verwar, kan..."

Die een oomblik lag jy saam met lieflike Lolita en julle is albei dol gelukkig. Dan gebeur die onlogiese, verwarrende... Lieflike Lolita het in haatlike Helga verander en julle het een vreeslike geveg. Jy het geen idee hoe dit nou skielik gebeur het nie. Sommer so uit die bloute. Maar as sy so vol nukke wil wees, moet sy liewer vanaand vroeg gaan slaap en more voel sy beter. Of altans, dit is wat jy dink... eintlik hoop. So wat maak jy? Jy onttrek en skryf dit daaraan toe dat vrouens in elkgeval onverstaanbaar is en basta met die res!

Meneer, dit is 'n resep vir regte probleme as jy so gaan optree. Het jy geweet dat jy die vermoeë het om haar "onverstaanbaarheid" te ontsyfer? Ja, dit is inderdaad waar. Daar is gewoonlik 'n logiese rede waarom sy Helga streke uithaal. Die gedrag wat jou so irriteer en verwar kan 'n aanduiding wees dat sy 'n behoefte het wat sy graag wil hê jy moet vervul.

Die eerste sleutel vir die ontsyfering van die geheim is dat jy dalk iets verkeerd gedoen het. Selfs al besef jy dit nie eers nie. Dit is nie noodwendig die geval nie, maar dit kan dalk net moontlik wees. Vra vir haar of jy dalk iets gesê of gedoen het om haar te ontstel?  As sy sê dat sy 'ok' is, maar die atmosfeer bly gespanne, moet jy vir haar sê dat dit voel asof jy iets verkeerd gedoen het en graag wil weet wat dit is. Bly kalm en benader haar sagkuns. (Sou ek en my man in hierdie situasie wees en hy is kort-af en geïrriteerd met my, klap ek toe soos 'n boek en hy kan daarvan vergeet om enige positiewe reaksie van my kant af te kry). Indien sy steeds nie wil oopmaak teenoor jou nie, sê maar net vir haar dat indien jy wel iets gedoen het om haar te ontstel, jy jammer is en dat dit geensins jou intensie was om haar om te krap nie. Dit kan moontlik die deur oopsluit sodat sy haar emosies met jou deel. Dan moet jy haar punt probeer insien sodat julle die situasie sommer dadelik op 'n volwasse kalm manier kan uitsorteer.

Die tweede sleutel vir haar onverstaanbare gedrag kan dalk iets te doen hê met haar onsekerheid of julle verhouding nog 'ok' is. Wanneer laas het jy vir haar gesê dat jy haar lief het of uit die bloute vir haar 'n drukkie gegee of sommer net haar hand vasgehou? 

Sleutel nommer drie is dat haar gedrag dalk glad nie oor jou gaan nie, maar oor haar omstandighede. Net soos jy as man 'n slegte dag by die werk kan hê, gebeur dit maar met vrouens ook. Wanneer my man 'n slegte dag gehad het en 'n bietjie spasie benodig om te ontlont, sal dit die verkeerdste ding van my wees om dit persoonlik op te neem. Dit is soos om petrol op die vuur te gooi. Jy soek dan mos nou vir 'n geveg. In daardie opsig is vrouens presies dieselfde. Meneer, moet dit nie sommer net persoonlik opneem as jou vrou in 'n slegte bui is wanneer jy tuis kom nie. Vind uit wat die rede is, laat haar stoom afblaas en sê dan iets soos wat my man gewoonlik vir my sê; "Dit maak my nie minder lief vir jou nie". Dit laat my sommer dadelik bedaar. 

Dan is daar ook natuurlik sleutel nommer vier... Hormone! Dit is 'n realiteit. Gert vra my altyd of die goed nie eintlik 'demone' genoem moes word nie. Dit is ongelukkig waar dat daar 'n paar dae in die maand is wat 'n vrou baie vinniger gespanne en geïrriteerd raak as gewoonlik. In sulke dae is ek sommer geïrriteerd omdat ek so geïrriteerd is. Hulle noem dit PMS! Die variasie van intensiteit verskil van vrou tot vrou. Kyk net gou wat die simptome daarvan is en dan kan jy dalk verstaan waarom sy so kort-af raak. 
*  Aknee
*  Geswelde en teer borste
*  Moegheid
*  Slaaploosheid
*  Omgekrapte maag en opgeblaasheid
*  Hoofpyn en rugpyn
* Apteit verandering - 'cravings'
* Gewrig en spier pyn
* Konsentrasie probleme
* Hou water terug (dis hoekom vroue dan 'vet' voel)
* Spanning, geïrriteerdheid, 'mood swings', huilerigheid.
* Angstigheid en depressie

Noudat jy as man weet waardeur jou vrou elke maand moet gaan, jaar in en jaar uit, behoort jy die Helga streke beter te verstaan. Bietjie meer deernis en geduld met haar kan jou ver bring. Indien jy vermoed dit is sulke tyd, koop sommer haar gunsteling lekkerny oppad huis toe. Dit mag jou dalk net weer as haar ridder bevestig. 

Vrouens het baie meer ondersteuning van hul mans af nodig as wat die manne gewoonlik besef. Hopenlik kan hierdie geheime van die vrou se hart julle help om in meer harmonie saam te leef. Hoe jy as man jou vrou hanteer sal bepaal hoe sy teenoor jou sal reageer.

Geen opmerkings nie: