Vrydag 20 November 2015

HAAR GEDAGTES...

HAAR GEDAGTES...

Verbeel jou jy sit voor 'n rekenaar. "Windows" hardloop met 'n paar programme oop. Jou e-pos, Facebook, Google, Twitter, Word met so drie dokumente, Excel met so twee "spread sheets", Powerpoint en jou gunsteling cd speel in die cd speler. Klink  bietjie chaoties? Dan is daar nog daardie irriterende "pop-up" advertensies wat kort-kort opduik net wanneer jy dink jy is op die punt om een dokument of taak af te handel en toemaak.

Dit my vriend is 'n kykie na hoe 'n vrou se brein werk.  Sy dink aan dertig dinge gelyktydig, indien nie meer nie. En dan is daar nog die gedagtes van goed of emosies wat pla wat tydig, maar meestal ontydig, hul opwagting maak (die "pop-up's"). Elke liewe gedagte beinvloed haar emosies wat weer haar gedrag beinvloed. Geen wonder die arme manne voel hulle verstaan vrouens glad nie.

Kom ek gebruik myself as voorbeeld. Wanneer ek wakker word en nog na die kamerdeur toe strompel om die buite lig af te sit en die alarm te de aktiveer, wonder ek of daar ooit genoeg melk is vir koffie en ontbyt vanoggend. Ek dink aan my dogter se groot projek vandag en wonder of sy goed voorbereid is. Sal haar gou moet bel. Gelukkig het daar gisteraand nog genoeg vleis oorgebly vir vanaand se ete, so ek kan net slaai en brood rolletjies bysit. Spaar my tyd. Oppad kombuis toe sit ek ligte af en maak gordyne oop, sit die radio en ketel aan terwyl ek dink aan alles waarmee die huishulp moet help vandag. Outomaties begin ek alles neerskryf wat ek by die winkel moet kry vandag. Dan wonder ek skielik of skoonma dalk vir my vies is omdat ek nog nie op haar boodskap gereageer het nie. Onthou my man van sy vroeë vergadering vanoggend? Sal vinnig sy kosblik moet pak sodat hy vroeër kan ry. Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts... Daar is nog baie ander dinge waaraan ek dink terwyl die ketel nog nie eers kook nie, maar ek sal bladsye vol skryf as ek alles moet noem.

So gaan dit met die meeste vroue op 'n daaglikse basis, die hele dag lank. Dan kan die manne nie verstaan hoekom sy nie net ophou om oor alles bekommerd te wees die hele tyd nie. Of hoekom sy nou alweer oor gister se onderonsie afgaan nie. Of hoekom sy alweer hoofpyn het en te moeg is vir seks...

Jou vrou se brein is so saamgestel dat sy 'n klomp dinge op een slag kan dink, doen en voel. Sy kan nie daarvoor help nie. Sy kan nie net 'n gedagte uitskuif en nie weer daaraan dink nie. Eers wanneer die gedagte geprosesseer of opgelos is, of op gereageer is kan sy dit uitskuif. Anders kom dit die hele tyd weer terug.

Jou vrou moet oor iets praat om dit te prosesseer. Dit is hoekom baie vrouens met hulself praat en ook hoekom mans dink vrouens praat vreeslik baie. Wanneer iets nie opgelos is nie, veral by emosionele sake wat julle verhouding betref, gaan sy weer en weer daaroor wil praat totdat dit opgelos is. So manne... help julself deur so gou as moontlik die emosionele goed met haar uit te sorteer, anders word dit dalk 'n plofbare situasie.

Moet asseblief net nie vir haar se sy moet net nie meer aan die probleem dink nie, of ignoreer dit. Sy kan dit nie doen nie. Dit help absoluut net mooi niks.

Ek weet dit klink erg genoeg vir enige man om te wil weghardloop. Maar dink net aan hoe wonderlik die Here jou vrou se brein geskape het om al die dinge te kan doen. Wees meer verdraagsaam teenoor haar en dankbaar vir hierdie wonderlike kwaliteit van haar. En wees veral dankbaar dat jy as man dit nie hoef te doen nie.

Die goeie nuus is dat jy haar kan help om van die gedagtes af te handel en toe te maak.
* Luister na haar.
* Moedig haar aan om tot aksie oor te gaan, veral oor goedjies waaroor sy bekommerd is.
* Jy kan haar gerusstel.

Dink net hoe baie respek jou vrou vir jou sal hê indien jy ag slaan op die bogenoemde dinge en dit doen. Sy sal voel dat jy haar lief het en dat haar belange vir jou belangrik is. Dit kan selfs tot jou eie voordeel lei sodat die hoofpyne en moegheid verminder of verdwyn, as jy weet wat ek bedoel... ;)




Geen opmerkings nie: