Vrydag 16 Oktober 2015

HOE LYK JY VIR HOM?

HOE LYK JY VIR HOM?

Dit is 'n vraag wat verskillende emosies tuisbring by mans en vrouens. 

As jy weet jy lyk fisies goed dan voel jy goed. Maar as jy nie tevrede is met jouself nie, wil jy soos 'n volstruis maak en jou kop in 'n gat druk en hoop niemand sien jou raak nie. Dan aan die ander kant, hoeveel van ons is tevrede met onsself? Elke vrou het maar ietsie waaroor sy ontevrede is. 

Almal van ons het nog vol programme elke dag en is geneig om onsself af te skeep. Dan kyk ons eendag in die spieël en sien skielik 'n heel ander vrou as die stralende bruid na ons toe terug staar..., maar troos onsself daaraan dat skoonheid vergaan en dit is in elk geval nie die uiterlike wat saak maak nie, maar die innerlike. 

Wat is die manne se opinie? Ons weet dat hulle visueel ingestel is en dit maak ons soms moedeloos. Maar die goeie nuus is dat God al die potensiaal in jou gesit het om vir jou man fisies aantreklik te wees tot so 'n mate dat hy net oë vir jou sal hê. Nee, ek praat nie van die super-model voorkoms in die tydskrif nie. Ek praat van jou, 'n regte vrou. 

Die waarheid is dat die mooiste vroue vir mans, nie die supermodelle is nie.Vir hom is dit 'n regte vrou wat gemaklik is in haar vel, selfvertroue het, goed versorg is en avontuurlustig die lewe saam met haar maat geniet.

Dit is egter vir jou man BAIE belangrik hoe jy lyk al sou hy dit ook ontken. 'n Man het eenkeer gesê dat as hy 'n man sien met 'n vrou wat verslons lyk en onversorg is, voel hy jammer vir daardie man. Al is sy ook hoe mooi en maer. Kan jy jou indink hoe voel daardie man dan, want hy weet die ander man kry hom jammer. Dit breek sy selfvertroue en vermoë om te presteer heeltemal af. 
Maar wanneer 'n man 'n ander man sien met 'n goed versorgde vrou, al is sy ook oorgewig, dink hy; "My vriend jy het goed gedoen in die lewe". Natuurlik sal daardie man se bors swel. Jou man voel dat jy vir hom omgee en lief is wanneer jy mooi na jouself kyk.

Jou man is jou maat. Hy wil die lewe saam met jou geniet en dinge saam met jou doen. Dit breek egter sy spoed as jy te oorgewig is om die energie te hê om dit saam met hom te doen. Dit is jammer, maar om baie oorgewig te wees is nie net sleg vir jou gesondheid nie, maar vir jou huwelik ook. Daarmee sê ek nie jy moet 'n nommer 10 rok dra nie. Die meeste manne hou van 'n vroulike figuur met kurwes. Dit maak haar sag en vroulik. Ek verstaan ook maar al te goed dat 'n vrou se liggaam verander as gevolg van hormone en swangerskappe. Maar as jy die moeite doen om van jou kant af jou gewig in toom te hou, sal dit ongelooflik baie vir jou man beteken.

Jy moet ook moeite doen met jou kleredrag. Lyk netjies en versorg. Moenie dat jou man jou net in sweetpak broeke en t-hemde sien nie. Onthou, hy werk deur die dag en die vrouens by sy maatskappy lyk gewoonlik goed. Hare, naels, grimering en kleredrag. Moenie dat jou man huis toe kom en na 'n uitgewaste lappie van 'n vrou moet kyk nie. Maak dit deel van jou daaglikse roetine om jouself mooi te versorg. Jou man sal dit waardeer omdat hy gelief sal voel. Dit sal jou huwelik 'n hupstoot gee en selfs jou kinders sal gelukkig wees omdat hulle die liefde tussen mamma en pappa sal sien en boonop trots wees op hulle mooi ma. Nee, jy hoef nie in stilletos rond te trippel nie. 

Jy hoef nie duur skoonheidskure aan te durf of heeltyd met satyn nagrokkies te slaap nie. Dit sal natuurlik goed wees indien jy jou man so nou en dan verras met 'n wulpse nagrokkie, maar dit gaan daaroor dat jy altyd goed versorg moet lyk. 

Wees die vrou wat God jou geskape het om te wees en ervaar die verrassings wat daarmee saamgaan. Moenie daarop uitmis nie. Dit is beslis die moeite werd.



Geen opmerkings nie: