Woensdag 02 September 2015

JOU LIEFDE IS NIE GENOEG NIE...




JOU LIEFDE IS NIE GENOEG NIE....

"Jou man sal liewer voel dat jy hom nie lief het nie,as om te voel dat jy hom nie respekteer nie."

Die Woord praat in Efesiërs 5 van die vrou wat haar man moet eerbiedig en die man wat sy vrou moet liefhê. Die rede daarvoor is dat dit vir 'n man meer belangrik is om gerespekteer te word terwyl dit vir 'n vrou die belangrikste is om liefgehê te word. Dit is hoe God ons geskape het. 

Net soos jy dit nodig het om onvoorwaardelik lief gehê te word, net so het jou man jou onvoorwaardelike respek nodig. Hy het nodig om gerespekteer te word vir wie hy is - dit is jou man - en nie vir hoeveel hy daarvoor gewerk het nie. 

Vroue sal soms sê 'Ek het jou lief' maar wil terselfde tyd dinge beheer. Ongelukkig sien 'n man dit dat hy nie gerespekteer en vertrou word nie. Om hom te respekteer is om te kies om hom te vertrou, waardeer, bewonder en te eer. 

Het jy geweet dat indien jy kies om jou man ten alle tye te respekteer, hy outomaties meer liefde aan jou sal bewys. Die woorde wat die deure na jou man se hart oopsluit is... " My man ek is so trots op jou; ek vertrou jou" en "dankie vir dit wat jy doen".


Vertrou jou man se oordeel

Jy kan jou man respekteer deur vertroue te hê in sy kennis, opinies en besluite. Jy mag van jou man verskil, maar moet hom nie die hele tyd oor sy besluite bevraagteken en met hom stry nie. Moet ook nie in die strik trap om aan hom opdragte uit te deel soos aan die kinders nie. Dit laat hom baie 'stupid' voel.
Baie mans kry baie meer respek van hul kollegas af as van hul eie vrouens af. Dit is baie hartseer aangesien hy dit juis van sy vrou af nodig het. Dit is slegs by haar wat hy sy hart werklik sal oopmaak en waar hy die mees kwesbaarste is. 


Respekteer sy vermoeë.

Jou man het nodig om dinge vir homself te ontdek en uit te sorteer. Indien hy dit baasraak sal dit sy manlikheid bevestig en sy selfvertroue 'n verskrilike hupstoot gee. Die probleem is dat ons, vroue, die manne wil help en hulle sien dit as wantroue, dat jy dink hy het nie die vermoeë nie. Nee, los hom uit en vertrou hom. Moenie vir hom sê hoe hy dit moet doen nie. Wanneer hy slaag, prys hom. Hy sal uit sy vel uit wees van vreugde en voel asof hy lewe! Dit kan enige iets wees van 'n televisie instel tot by die gewildste een, om 'n pad/ plek te soek sonder om hulp te vra. 


Respekteer jou man vir sy prestasies.

Vroue het nodig om spesiaal en waardig aan liefde te voel aan die binnekant, terwyl mans nodig het om bewonder te word en gewaardeer te voel vir wat hulle bereik aan die buitekant. Wanneer jy vir jou man sê dat hy  'n goeie pa vir sy kinders is, beteken dit baie meer vir hom as wanneer jy vir hom sê dat jy hom liefhet.


Respekteer sy manier van kommunikasie.

Soms voel dit asof mans 'n ander taal as vrouens praat, al praat albei Afrikaans. 'n Vrou sal iets sê, dan hoor die man iets heeltemal anders...
  • Die drein is verstop. Vroulief sal sê; "Liefie, ons sal die loodgieter moet skakel, want die drein is verstop". Manlief is dadelik kwaad.Vroulief is geskok en verbaas oor haar man se optrede. Hoekom op dees aarde sal hy so reageer? Hy wou self die drein oopmaak, maar hoor dadelik dat sy hom nie vertrou daarmee of glo hy kan dit doen nie. Hy ervaar dit dat sy nie respek vir hom het nie. Sy moes eers gevra het of hy kans sien om dit te hanteer.
  • Vrou lief koop 'n pragtige skildery en sien al hoe dit pronk teen die eetkamer muur. Met groot entoesiasme vra sy vir manlief om dit vir haar op te hang. Hy belowe hy sal. Na twee weke is dit steeds nie gedoen nie. Sy sê; "Liefie, ek het jou al twee weke gelede gevra om die skildery in die eetkamer op te hang. Dit is nou nog nie gedoen nie. Sal jy dit asseblief doen?" Dadelik begin hy brom en lyk vreeslik ongelukkig. Nou hoekom dan? Hy hoor teleurstelling. Dit laat hom as man voel of hy gefaal het. Hy haat dit om te faal. Die feit van die saak is dat die skildery net nie so hoog op sy prioriteitslysie is  soos sy vrou sin nie.
  • Vroulief sê; "Gert, weet jy hoe om 'n motor se enjin oor te doen?" Dadelik is manlief omgekrap. Hoekom? Dit is net 'n onskuldige vraag. Hy hoor 'n aanval. Ja jy het reg gelees, 'n aanval. Sy moes die vraag versag het deur te sê; " Veronderstel 'n motor breek, weet jy of jy dalk die enjin sal kan oordoen?"  
Ek weet jy kan nie die hele tyd op eiers loop rondom jou man nie. Jy moet net meer sensitief wees vir sy gevoelens. Dit maak op die ou end nie saak wat jy dink jy sê nie, maar wel wat hy hoor.


Respekteer hom in die publiek.

Dit is vir jou man baie pynlik wanneer jy hom in die publiek kritiseer. Moet dit nie doen nie. 
Om hom in die publiek te terg, al bedoel jy dit speels, kan vir hom 'n vreeslike marteling wees. Veral voor ander mans. Die manlike geslag is altyd kompeterend met mekaar. Jou getergery kan die boodskap uitdra dat jy nie respek vir jou man het nie of dink hy kan nie sy manlike plig teenoor jou nakom nie. Hy kan soos 'n swakkeling lyk en die ander mans kan hom jammer kry of nog erger, dink dat hy ruggraat loos in sy werk ook is. Dit verneder jou man totaal en al. 
Die beeld wat jy van jou man uitdra is baie belangriker as wat jy dink. Jou opinie oor hom is belangriker as enige iemand anders sin. Dit weerspieël sy manlikheid. 
As jy met hom spog en hom opbou, veral voor ander mans, sal hy dink jy is die wondelikste vrou op aarde. 

Watter aannames maak jy oor jou man? Is daar respek in? Ons as vrouens neem sommer maklik aan dat die manne kies om ons nie te help nie, dat ons hulle die hele tyd aan alles moet herhinder of dat dinge sommer sy skuld is. Dit wys aan hom dat jy hom nie respekteer nie. Wanneer jou man voel dat jy nie respek vir hom het nie, kan dit veroorsaak dat hy emosioneel onttrek om homself te beskerm. Dit kan tot gevolg hê dat hy nie so liefdevol teenoor jou is as voorheen nie en dit kan ernstige negatiewe gevolge vir jou 
huwelik inhou. 

Het jy al ooit van die gesegde gehoor; 
"Happy wife, happy life?" 

Die waarheid is egter; 
"Respect your man and he will make you a happy wife with a happy life."





























J

Geen opmerkings nie: